Persverklaring: Boekvrystelling van “Soektog na Liefde”
VIR ONMIDDELLIKE PUBLIKASIE
Boekvrystelling: Soektog na Liefde
Johannesburg, Gauteng – 8 November 2011 – CruGuru Uitgewers
CruGuru Uitgewers wil graag die vrystelling van ‘n nuwe Afrikaanse boek in hulle stal aankondig: Soektog na Liefde deur Edna Cane.
Soektog na Liefde is ‘n Christelike roman wat handel oor liefde, swaarkry en vreugde, familiebande, versoeking, sonde, genade en vergiffenis..
Soektog na Liefde vertel die verhaal van Tracey, wie se lewe binne ‘n paar maande heeltemal omvergewerp word en haar geloof voor ‘n groot toets te staan kom.
Alles het begin toe Tracey se ma ernstig siek begin word het.
Tracey moet haar werk as instruktrise by die gimnasium prysgee om haar ma voltyds te kan versorg. Uiteindelik versleg haar ma se toestand sodanig dat Tracey en haar man, Eric, haar ma by ‘n versorgingstehuis moet gaan inboek, met hulle eie geld. Dit begin ook sleg gaan met Eric se werk, sodanig dat sy inkomste heelwat verminder, en van hier af loop alles net skeef in Tracey se lewe.
As gevolg van Eric se trots probeer hulle alles van hulle familie en vriende af weghou, selfs toe hulle die huis verloor. Met haar huwelik wat daaronder ly, het Tracey nog haar geloof wat haar deur die diep waters dra, maar selfs dit begin later verkrummel en gee sy toe aan erge versoekinge onder die druk van haar probleme.
Later begin dit finansieël baie beter gaan in hulle lewe, maar hulle huwelik het reeds ‘n groot knou gekry. Deur alles bly Tracey tog nog steeds lief vir Eric, en wil sy haar huwelik red, maar sy begin twyfel of haar sondes dit sal kan oorkom en sy raak seker daarvan dat haar huwelik in die slag gaan bly.
Dan begin Tracey egter leer van God se groot genade en vergiffenis wat ook deurspoel na ander mense en haar selfs aanraak. Met dankbaarheid besef sy egter dat dit ook baie werk van haar kant af gaan verg om gebroke verhoudings weer te heel…
Edna Cane het grootgeword in Witbank, Mpumalanga, en na skool het sy in haar ouers se winkeltjie gewerk. Sy het daarna vir vyf jaar in Pretoria gebly en gewerk as kelnerin en toe weer teruggekeer na Witbank waar sy verder as kelnerin werksaam was. Na ‘n baie ernstige motorongeluk en ‘n jaar se herstelproses het sy vir Albertus (Swannie) Swannepoel ontmoet, met wie sy in Maart 2011 in die huwelik getree het.
Soektog na Liefde is Edna se tweede boek. Haar eerste roman, Totsiens aan Gister, het in April 2011 verskyn.
Soektog na Liefde word vrygestel in sagteband, asook in as ‘n e-boek, met die volgende ISBN-nommers: 978-1-920414-73-3; 978-1-920414-74-0; 978-1-920414-75-7. Die boek kan in Suid-Afrika asook in die buiteland oor die Internet bestel word. Bestelinligting en pryse kan op die boek se webblad te siene gekry word: http://www.cruguru.net/soektog-na-liefde.
Daar is ook ‘n lokvideo van die boek beskikbaar wat op die boek se webblad gesien kan word, of by YouTube: http://www.youtube.com/watch?v=9MJ8YI5mKqA. Verder beplan CruGuru Uitgewers om nog meer uitgawes met verloop van tyd bekend te stel, beide in Suid-Afrika en in die buiteland.
Omtrent CruGuru Uitgewers:
CruGuru se strewe is om voortreflike Afrikaanse boeke, beide fiksie en nie-fiksie, aan die leser te bied in verskillende media-formate soos tradisionele gedrukte boeke, e-boeke en oudio-boeke. CruGuru poog om op ‘n gereelde basis ‘n verskeidenheid te publiseer wat bestaan uit nuwe boeke, klassieke Afrikaanse werke, asook herdrukke van minder bekende Afrikaanse boeke.
Hiermee wil CruGuru dit maklik maak vir die leser om Afrikaanse boeke aanlyn te soek en om Afrikaanse boeke te koop op die Internet.
Kontakinligting:
E-pos adres: info[by]cruguru.com
Webwerf: http://www.cruguru.net